Januarie 2020.

Eers sien jy die asemrowende uitsig. Dan ruik jy dit: katjiepiering, sterjasmyn, kanferfoelie, heuningblommetjies, mirt, ment en roosmaryn. Jy hoor die voëls, die wind wat die blare roer, water in ’n visdammetjie. En as jy gelukkig genoeg is om in die gastehuis oor te bly, kan jy die vars groente uit die tuin en die vrugte van die bome proe. ’n Besoek aan die indrukwekkende tuin van die geskiedkundige landgoed Mirtehof op Prins Albert is ’n sintuiglike ervaring in elke opsig.

Prins Albert het ‘n ryk geskiedenis wat selfs ‘n goudstormloop en koninklike invloede insluit, en eens die woonplek was van baie eksentrieke en rare karakters. Die hele landgoed is ’n lus vir die oog, maar dis die tuin van 2 500 m² aan die onderkant van die herehuis, ingekamp tussen bekoorlike wit mure wat jou oorrompel.

Dié deel, waar aanplantings in 2017 begin het nadat bouwerk aan die hoofhuis, gastehuis en buitegeboue voltooi is, is ’n kleurryke wisselspel van rose, struike, blomplante en groente, gestruktureer tussen lanings en priële, voetpaadjies en stoepies, beddings en ’n kuierhuisie.

Mirtehof, soos dit vandag hier staan, is ’n jare lange droom wat waar geword het vir die eienaars, dr. Bets Janse van Rensburg en haar man, Stevan Möller, van Bloemfontein. Met die hulp van die landskapontwerper Rentia Verster, die boukontrakteurs Adan Liepner en Neels Swart van Afri Eco en Sue Dean van Renu Karoo met haar kennis van Karoo-plante, het hulle dié kleinhoewe van 4,7 hektaar ontwikkel tot iets baie spesiaals. Eendag wil Bets en Stevan hier kom aftree.

Eendag wil Bets en Stevan hier kom aftree. “Ek het in die Senekal-omgewing in die Vrystaat grootgeword op ’n plaas vol rose en ander blomme,” vertel Bets. “Ons het dikwels Prins Albert toe gekom, want ons band met die dorp strek terug na die vroeë 1900’s toe my oupagrootjie, Christiaan Jacobus Bam, hier landdros was. My en Stevan se eerste huis hier is in Markstraat, maar ons wou nog al die jare ’n gastehuis begin.”

Deur Marlene Malan • Foto’s Francois Oberholster en Amora Erasmus

Laai die volledige artikel af.